Republikein (Namibie)

Piekniek op die maan, vakansie op Mars.


Ruimtetoerisme om die draai


Van 2022 af sal dié met stywe bankbalanse op ’n week lange ruimtevlug tussen die planete met ’n geliefde kan afhaak, terwyl Frank Sinatra se “Fly Me to the Moon” in die kajuit van die klein ruimtetuigie weerklink en die maanlandskappe oor die einders verbyskuif.


Hierdie is nie wetenskapfiksie nie.


ApoteoSurprise, ’n Franse agentskap wat daarin spesialiseer om buitengewone en eksotiese verlowingspakkette aan te bied, het reeds hieraan begin bemark.


Die prys? ’n Koel 125 miljoen euro. Dit is kort duskant N$2 miljard.


Ruimtetoerisme wink en daar is sprake dat die eerste ruimtevlugte vanjaar al onderneem kan


word.


Die ruimteresies tussen Elon Musk se Space-X, Jeff Bezos se Blue Origin en Richard


Branson se Virgin Galactic raak al warmer en aardlinge hou verwikkelinge angstig dop.


(Sien die kassie hiernaas.)


Republikein het tydens dr. Japie van Zyl, die oud-Namibiër wat aan die stuur staan van


sonnestelselverkenning by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL) in


Pasadena, Kalifornië, se onlangse besoek aan Namibië met hom oor hierdie verwikkelinge gesels.


VESTIGING OP MARS


Van Zyl sê hoewel die Rooi Planeet omtrent 67% soos die aarde is, sal grootskaalse vestiging nie daar kan plaasvind nie. “Die kans is basies nul dat ons sogenaamde terraforming kan doen en ’n heel nuwe atmosfeer, soortgelyk aan die aarde s’n, daar sal kan skep.


“Ons sal ook die sonwind moet beveg wat besig is om Mars se atmosfeer weg te stroop.


“Wat ek wel glo sal gebeur, is dat ons klein kolonies sal vestig deur op klein skaal ’n beheerde omgewing met die regte toestande te skep, amper soos in die fliek The Martian. Dit gaan dalk nie noodwendig in my leeftyd gebeur nie, maar wel in die volgende geslag,” verduidelik Van Zyl oor ’n koppie koffie op Hotel Heinitzburg se stoep waar ons ruimtepraatjies maak.


“Nasa het pas ’n nuwe maanprogram aangekondig en daar is baie private maatskappye wat


sulke programme het.”


Hy meen hierdie kolonies op Mars en die maan sal soos die navorsingstasie op Antartika wees. “Wetenskaplikes en private mense sal vir ’n tyd lank soontoe gaan en weer terugkeer aarde toe.


“In die lang termyn is dit goed moontlik dat ruimtehotelle ook op die maan en op Mars sal kan vestig,” sê hy.


“Ek en Kalfie (sy vrou, en, soos hy, ook ’n boorling van Outjo) sal nie twee keer dink om na so ’n kolonie te gaan nie. Ons sal graag op die maan wil gaan piekniek hou.


“Ons het mos nie kinders nie, so ons sal maar die hond saamvat,” skerts hy toe ek hom oor sy eie drome van ’n ruimtereis vra.


’n Reis Mars toe sal agt maande duur. Dit is immers 450 miljoen km van Moeder


Aarde af. Die maan is, om “aardetaal” te gebruik, darem net anderkant die bult – drie dae of 386 400 km ver.


Maar, sê hy, ’n mens moet onthou in die tyd voor vliegtuie het mense weke en selfs maande lank per skip tussen vastelande gereis.


FINANSIERING


Van Zyl sê waar ruimteprojekte tot dusver deur regerings se ruimteprogramme gefinansier is, gaan dit in die toekoms toenemend deur die superrykes, in samewerking met regerings, aangepak word.


Europa se Space 4.0-program wys die klem het verskuif van regeringsfinansiering na die private sektor se betrokkenheid in ruimteprojekte. Dit het ’n nuwe era ingelui, verduidelik hy.


Die JPL werk ook al ’n geruime tyd met Space-X saam, sê hy. “Dié maatskappy het lanseringspryse baie goedkoper gemaak. Elon Musk-hulle het onlangs weer van ons satelliete op hul Falcon 9 gelanseer.”


In die verlede was kennisverwerwing die doelwit van ruimteprojekte. Met private maatskappye aan boord, gaan wins ’n motief word en sal die klem dus na toerisme en mynbou verskuif.


RUIMTEHELIKOPTER


Ons stap af van ruimtetoerisme as onderwerp en Van Zyl vertel die Mars-helikopter waarvoor hy so baklei het, sal in 2020 as deel van die Mars 2020-sending na die Rooi Planeet vertrek.


Buiten die Kepler-, Curiosity- en InSight-sending van onderskeidelik 2009, 2012 en 2018, waarby hy ten nouste betrokke was en is, lê hierdie een hom baie na aan die hart.


Vir die heel eerste keer sal ’n klein, outomatiese helikopter op ’n ruimtesending vir verkenning ingespan word. Dit sal drie keer meer van die gebied kan bestudeer as wat ’n robottuig kan doen.


Die Mars2020-sending sal die eerste sending wees wat aktief na mikrobiese lewe op Mars sal soek.


Om dit te laat vlieg in Mars se dun atmosfeer (1% van dié van die aarde) moes alles so lig en so kragtig as moontlik gemaak word.


Die helikopter sal vir 30 dae ingespan word en vyf vlugte onderneem - elke keer al verder.


Volgens Nasa sal die eerste toetse gedoen word om suurstof te maak uit die atmosfeer, en daar sal aktief na waterbronne gesoek word. Die omgewing sal bestudeer word om toestande te ondersoek vir toekomstige menslike sendings na die planeet.


“Ek het in 2013 hiermee begin en sal hopelik in 2021 kan sê dit was glad nie ’n slegte projek nie,” sê Van Zyl, wat hiermee nóg ’n reusetree vir die mensdom gaan gee.


KASSIE


Ruimtebaronne Musk, Bezos en Branson


Al drie is miljardêrs en al drie reik – letterlik en figuurlik – na die sterre.


Elon Musk wil Mars toe gaan, Amazon se Jeff Bezos droom van ’n kolonie op die maan,


en Richard Branson wil deur sy Virgin-groep luukse ruimtetoerisme aanbied.


Christian Davenport, skrywer van die boek The Space Barons, het onlangs in ’n onderhoud met


National Geographic vertel van die reusekompetisie tussen dié drie en verduidelik wat elkeen se visie vir die verkenning van die kosmos is.


Musk, die gebore Suid-Afrikaner, wat aan die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria skoolgegaan het en wie se pa, Errol, op Langebaan aan die Weskus woon, is gek oor media-aandag. Hy het in 2003 al ’n model van sy Falcon One-vuurpyl in Washington laat paradeer om Nasa se aandag te trek, vertel Davenport.


Bezos is meer op die agtergrond en meer in geheimenis gehul. Heelwat minder inligting is oor sy projek, Blue Origin, bekend as oor Musk se Space-X-program - al is dit al van 2000 af aan die gang.


Davenport sê Musk het van die begin af hard gewerk om die aandag op hom gevestig te kry. Bezos se motto is “stadig is glad, en glad is vinnig”. Hy is tevrede daarmee om geduldig en buite die openbare oog aan sy ruimteplanne te werk.


“Een van die dryfvere van hierdie ruimtebaronne is dat hulle glo die aarde is besig om te vergaan en hulle wil aan hul eie, private leer na die hemel bou,” sê Davenport in die National Geographic-artikel.


Sy vraag is of hulle nie eerder, soos Bill Gates, miljarde moet bestee daaraan om van die aarde ’n beter plek te maak nie.


Branson het met sy Virgin Galactic-program al talle gekke avonture onderneem, soos om met ’n lugballon oor die Stille Oseaan te vlieg en op ’n gevriesde meer in Kanada neer te stort. Daar was ook dié keer toe hy met die lugballon oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het en sy vlieënier hom in die steek gelaat het en hy dit alleen moes land.


Virgin Galactic wil uiteindelik toere na die ruimte aanbied in ’n ruimtetuig met die naam Spaceship 2. Dit sal van ’n moederskip af vlieg tot op tussen 35 000 en 40 000 voet, waarna dit die ruimte sal inskiet. Kaartjies sal sowat 250 000 Britse pond kos.


Wanneer Spaceship 2 eers in die ruimte is, sal passasiers hul veiligheidsgrodels kan losmaak en in die kajuit kan rondsweef en by die venster uit na die kurwe van die aarde kan kyk – daardie transformerende uitsig waarvan ruimtevaarders al vir dekades lank praat.


Volgens Davenport verloop sake egter nie vir Branson so maklik en glad soos hy wil hê nie. Dink maar aan die noodlottige botsing in 2014. Tog word verwag dat Virgin Galactic vanjaar al die eerste kaartjies aan ruimtetoeriste sal verkoop.


Musk se doel is om ’n uitkoms-plan te hê sou die aarde om een of ander rede deur byvoorbeeld ’n asteroïede vernietig word. Dit is om mense op Mars te plaas, amper soos wat jy die inligting op jou rekenaar se hardeskyf kopieer na ’n ander hardeskyf.


Bezos dink ’n bietjie anders. Hy sê Plan B moet wees om Plan A te laat werk en dit is om die aarde te beskerm en te bewaar.


Die rede waarom die mens na die ruimte gaan, moet volgens hom bloot wees omdat die hulpbronne soos steenkool, olie en gas hier beperk is en die ruimte onuitputbare voorrade daarvan het.


Is die wedywering tussen die drie niks meer nie as ‘n skoolseun-geveg op die speelgrond waarin die een die ander koggel met “myne is tog groter as joune” – ‘n vuurpyl is immers dié falliese simbool?


Davenport meen die mededinging speel inderdaad ’n groot rol om hierdie ruimteprogramme in private besit te rig en te ontwikkel. Maar, sê hy, was dit nie daarvoor dat Amerika in die sestigerjare tydens die Apollo-era die Sowjet-Unie wou uitoorlê nie, het die maansending nooit plaasgevind nie.


In die jare sedertdien is ruimtevaarders na die Internasionale Ruimtestasie gestuur, maar dit is nie naastenby so ambisieus soos om maan toe te gaan nie, sê Davenport.


Volgens hom het hierdie drie miljardêrs met hul wedywering ’n nuwe ruimteresies geskep wat ruimte-ontwikkeling nuwe oemf gegee het.


Beide Virgin Galactic en Blue Origin wil toeriste op suborbitale reise na die rand van die ruimte neem. Beide werk daaraan om die eerste reise vanjaar reeds te onderneem.


Musk se Space-X kompeteer met Boeing om vlugte na die Internasionale Ruimtestasie te onderneem.


Verder bou Bezos tans ’n reusevuurpyl, New Glenn, wat met Space-X se Falcon 9 sal meeding.


Dit is nou wag en sien wie van dié drie hierdie wedloop gaan wen.


KASSIE


Mense na Mars – wat gaan dit kos?


Om die eerste mense na Mars te stuur gaan nagenoeg US$1 triljoen kos.


So sê Pascal Lee, direkteur van die Mars-instituut, ’n niewinsgewende internasionale navorsingsorganisasie wat gedeeltelik deur Nasa gefinansier word.


Money van Time het verlede jaar voor die Mense na Mars-beraad in Washington met hom gepraat oor wat dit sal kos om mense na die Rooi Planeet te stuur. Dít is wat hy gesê het:


“Die Apollo-sending na die maan het in die 1960’s US$24 miljard oor ’n tydperk van 10 jaar gekos. Dit beteken Nasa het 4% van die VSA se bruto binnelandse produk (BBP) daarvoor opsy gesit.


“Dit het Amerika daardie tyd ook US$24 miljard per jaar gekos om in Viëtnam te veg. Dit het dus, versprei oor ’n tydperk van 10 jaar, dieselfde gekos om maan toe te gaan as wat dit gekos het om vir een jaar die oorlog in Viëtnam te finansier.


“Nou, 50 jaar later, is Nasa se begroting US$19 miljard per jaar. Dit is 0,3% van die BBP – dus 10 keer minder as wat dit in die 1960’s was. Daarteenoor kry die departement van verdediging US$400 miljard per jaar uit die nasionale begroting. Daarom is die bedrag wat ek dink redelik is vir ‘n mensesending na Mars soos wat die regering dit destyds na die maan gedoen het, US$400 miljard vermenigvuldig met ’n faktor van drie of vier. Die rede daarvoor is dat dit soveel keer meer ingewikkeld is om Mars toe te gaan as maan toe.


“Dit bring my beraamde koste op US$1 triljoen, en dit is versprei oor ’n tydperk van 25 jaar.”


Lee sê verder in die onderhoud die strewe om gewone mense op Mars te hervestig, is selfs verder in die verskiet as 25 jaar.


“Mars is ’n uiters dodelike omgewing as jy onbeskermd daar sou rondbeweeg, so ek dink dit is nog baie lank voor kinders daar sal kan grootword. Ons sien dit meer as ’n sending na byvoorbeeld ’n plek soos Antartika waarheen jy ’n handjie vol mense stuur om vir ’n paar dekades lank navorsing te doen.”


ApoteoSurprise

101 rue de Sèvres

75006 Paris

06 03 15 37 06

7j /7 de 10h à 23h

  • Black Facebook Icon
  • Black Twitter Icon
  • Black YouTube Icon
  • Black Pinterest Icon

Mentions Légales - CGV - SARL au capital de 10.000 euros - SIRET 482 226 909 00026 - RCS Paris B 482 226 909 - Assurance RCP Hiscox n° HA RCP0230415
Copyright © 2006-2020 ApoteoSurprise, Tous droits réservés, Concept et scénarios déposés, Marque déposée INPI n° 043329077